Gesprekke om etenstafels oor mensehandel en kinderontvoering in Suid-Afrika het algemeen geword na die ontvoering van klein Joslin Smith. Die Suid-Afrikaner Joslin Smith se saak beklemtoon ontvoeringskrisis in SA
Die brandende vraag van al hierdie besprekings is: Hoe groot is die probleem in ons land?
Dit is moeilik om jou die angs van ouers voor te stel wat ’n kind as vermis wil aanmeld, maar dan verkeerdelik deur polisiebeamptes ingelig word dat hulle 24 of 48 uur moet wag of aangeraai word om eers ná die naweek terug te kom.
Ontvoering is as iemand onwettig en teen hul wil weggeneem word, gewoonlik vir ’n losprys. Mensehandel is die onwettige handel in mense vir uitbuiting of kommersiële gewin. Mensehandelaars dwing dikwels hul slagoffers in dwangarbeid of prostitusie. Die rede hoekom dit so toeneem, is omdat dit ’n lae risiko inhou en hoë opbrengste verseker. Onder sommige omstandighede is mensehandel vrywillig as die persoon saam met die oortreder weggaan uit hul bekende omgewing omdat hulle dikwels mislei word om dit te doen, maar hulle kan ook teen hul wil ontvoer word.
Die data wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verskaf word, het egter beperkinge omdat alle gevalle van ontvoering nie aangemeld word nie; nie alle gevalle het ’n duidelike motief nie; en ’n mens kan nie uit die statistiek aflei wat die persentasie kinders onder die getal ontvoerings is nie. Ons statistiek toon dat net sowat een persent van alle ontvoerings deel van mensehandel uitmaak.
Kinders word beskou as ’n maklik verhandelbare, sukkelvrye kommoditeite. Hul kwesbaarheid, in die besonder wanneer handelaars hulle van hul gesinne en ander hulpbronne skei, maak hulle makliker om te manipuleer en te beheer.
Die internasionale gemeenskap beskou Suid-Afrika as die eindbestemming van menige slagoffers uit veral elders in Suider-Afrika, terwyl dit as oorsprong en deurgang vir mensehandel na hoofsaaklik Europa en Noord-Amerika dien. Suid-Afrikaanse kinders word sowel binne as oor die landgrense verhandel.
Werwing van slagoffers vind meestal in landelike gebiede plaas, waarna hulle na stede soos Johannesburg, Kaapstad, Bloemfontein en Durban geneem word. Hier word meisies aan sekshandel en gedwonge huisarbeid blootgestel, en word seuns gedwing om aan straatsmousery, voedseldienste, bedelary, misdadige aktiwiteite en landbou deel te neem.
Deelname van vreemdelinge, individue en bendes of sindikate wat kinders met geweld vir hoofsaaklik prostitusie ontvoer;
ouers of familielede wat kinders dwing om van hul huise af prostitusie te bedryf (deesdae ook aanlyn); familielede of mense in gesagsposisies wat kinders dwing om aan seksuele aktiwiteite deel te neem;
advertensies in publikasies vir tienermeisies wat werk aangebied word in die gasvryheids- of rolprentbedryf (wat dan dikwels ’n dekmantel is vir prostitusie); en kinders wat soms oor landgrense geneem word vir seks en ander werk.Dit het ook al gebeur dat ouers hul kinders op Gumtree adverteer, vir so min as R5 000, of voorvalle waar kinders aan aanneemouers verkoop word omdat dié ouers nie self kinders kan kry nie.
Dit is ook nie altyd ’n georganiseerde optrede nie. ’n Misdadiger mag dalk op die ingewing van die oomblik ’n kind in ’n motor sien en hom of haar gryp en dan die ouers nader vir geld as losprys. Hulle glo hulle kan wegkom met die misdaad én geld daaruit verdien, ook veral omdat die polisie nie altyd dadelik kan optree nie.
Buiten dat kinders vir sekshandel ontvoer en gebruik word, word hulle ook gebruik om dwelms te verkoop en te versprei en om namens hul ontvoerders diefstal te pleeg. In uiterste gevalle word kinders ook ontvoer vir die oes van organe wat dan verkoop word, of hulle word aan buitelanders verkoop wat nie self kinders het nie.
Die oplossing vir hierdie probleem is die hokslaan daarvan (lockdown). Ons moet saamwerk om die misdaad te bestry en kan dit nie alleen doen nie. As jy sien iets gebeur in die straat, tree op en word deel van die oplossing. Jy kan die polisie bel of gaan help of net hard skree om aandag te trek.
Dit is ook belangrik dat daar deurlopend opleiding en inligting oor die gevare van ontvoering aan kinders gegee word. Dit is nie lekker nie, maar dit is!